Versorgingsopleiding

Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut, in samewerking met Bo-Karoo Opleiding, bied opleiding in die versorging van bejaardes, babas, kleuters en persone met gestremdhede aan.

Studente wat die kursus suksesvol voltooi het, kan as tuisversorger of versorgingshulp deur tehuise of residensiële instansies in diens geneem word. Hulle kan ook privaat werk onderneem.

Die minimum toelatingsvereiste vir die kursus is gr. 10, en die onderrigtaal is Afrikaans.

Studente wat vir hierdie kursus aansoek doen, moet 'n besonderse liefde en deernis vir hul medemens toon. Dit is 'n veeleisende beroep wat hardwerkendheid en 'n toegewyde gesindheid vereis.

Studente moet fisies en geestelik gesond wees en die waardigheid van mense hoog op prys stel.

Die kursus is gegrond op 'n Christelike, gereformeerde waardestelsel waarin die volgende waardes benadruk word: respek, etiese beginsels, deernis, uitnemendheid, professionaliteit en integriteit.

Akkreditasie

Die kursus is geakkrediteer by die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO). Studente wat dit voltooi, verwerf 68 krediete.

Kursusformaat

Dit is 'n ses maande lange kursus waartydens studente teoretiese kennis, praktiese opleiding en werksplekgebaseerde ervaring opdoen. Die bywoning van teoretiese klasse op die Pretoria-kampus van die Opleidingsinstituut en die inoefening van vaardighede in 'n simulasie-laboratorium is verpligtend. Studente sal werksplekgebaseerde ervaring opdoen by ʼn instansie wat deur Helpende Hand geïdentifiseer is. Helpende Hand sal ook al die nodige reëlings met die instansie tref. Dié ervaring sal aan afgestudeerdes die nodige selfvertroue bied om hulle roeping met die nodige kennis en selfvertroue te vervul.

Ekstrakurrikulêre vaardighede

Die kursus is baie meer omvattend as die minimum uitkomste wat QCTO voorskryf. Ons bied ook aanvullende modules aan wat gerig is op persoonlike en leierskapsontwikkeling en modules wat die studente nodig het om gehaltesorg en persoonlike ontwikkeling te verseker. Dit sluit onder meer die volgende in: kommunikasievaardighede, konflikhantering, intreevlak-noodhulp, finansiële en beroepsvoorligting en vaardighede soos wondsorg en katetersorg.

Kostes

R11 500, Kursusmateriaal en uniform ingesluit.

Aanvangstyd

2 Mei 2024

Vir enige navrae en aansoeke, stuur asb. ʼn epos na [email protected]

NAVRAE

Vir enige navrae en aansoeke, stuur asb. ʼn epos na [email protected]

AANSOEK

Om aansoek te doen, klik op die volgende skakel:
https://bit.ly/3LO7UKv