Die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut bied 'n kursus vir die opleiding van tuisversorgers aan. Hierdie kursus fokus op basiese opleiding in die versorging van kwesbare persone, pasiënte en bejaardes en is gegrond op 'n Christelik gereformeerde waardestelsel.
Kwalifikasie en akkreditasie
Beroepsertifikaat: Tuisgebaseerde versorger, NKR Vlak 3, 135 krediete, SAQA ID: 104792
Toelatingsvereistes:
- Graad 12-sertifikaat/Nasionale Senior Sertifikaat
- Afrikaans magtig
- Eie vervoer en verblyf
Kampus
Kampus: Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut, David Langleystraat 433, Garsfontein, Pretoria
Kostes
R29 850 (BTW ingesluit)
*Onderhewig aan verandering
Die koste sluit die volgende in:
- Registrasiefooi van R1 200
- Tuisgebaseerde-versorger-sertifikaat (QCTO NKR Vlak 3)
- Noodhulp Vlak 1-sertifikaat (TETA23-1568)
- Versorgerstassie
- Studiemateriaal
- Uniform
Opleidingsformaat
Ons voltydse program strek oor een jaar en bestaan uit drie goed geïntegreerde komponente:
- Teorie: 'n Ervare, geregistreerde verpleegkundige bied klasse aan in 'n moderne, goed toegeruste lesinglokaal.
- Praktiese vaardighede: Studente oefen praktiese sorgvaardighede in in 'n spesiaal ingerigte simulasielaboratorium.
- Werksgebaseerde ervaring: Studente werk onder toesig in 'n tehuis in diens van die gemeenskap om ervaring op te doen en hulle vaardighede te verfyn.
Die program word hoofsaaklik in Afrikaans aangebied. Sekere studiemateriaal is egter slegs in Engels beskikbaar.
Teoretiese klasse word afgewissel met praktiese oefening en werkservaring. Teoretiese klasse is verpligtend en vind daagliks plaas van 09:00 tot 16:00.
Studente moet minstens 450 uur simulasie voltooi en 450 uur werkservaring opdoen.
Die finale assessering vind plaas in die vorm van 'n eksterne eksamen. Na die suksesvolle aflegging van die eksamen kan jy as 'n gekwalifiseerde tuisversorger werk.
Teoretiese module
- Fundamentele beginsels van tuisversorging: etiese raamwerk waarbinne versorging plaasvind
- Basiese anatomie, fisiologie en siekteprosesse, holistiese beraming (fisies, psigies, sosiaal en geestelik) van die pasiënt, identifisering van versorgingsbehoeftes en opstel en implementering van 'n pasiëntgesentreerde sorgplan, gemeenskapsgesondheidsorg en maatskaplike bepalers van gesondheid, konsepte en beginsels van effektiewe rekordhouding
- Rehabilitasiesorg: versorging- en ondersteuningstelsel vir gestremdes, hantering van komplikasies, verwysingsnetwerke en huishoudelike probleme
- Terapeutiese sorg: hantering van fisiese en emosionele ongesteldhede, basiese psigiese ongesteldhede, nieoordraagbare siektes, oordraagbare siektes en algemene siektetoestande
- Ondersteunende en palliatiewe sorg: bejaardesorg, hantering van terminale siektes en bevordering van lewenskwaliteit, beraming en hantering van pyn
Praktiese modules
- Ondersoek en assesseer pasiënte, versorg pasiënte fisies deur middel van pynbeheer, posisionering, mobilisasie, eerstehulp, ondersteuning tydens psigiese gesondheidsprobleme, versorging van kwesbare en bejaarde persone, uitvoering van basiese ondersoeke en toetse, en hulpverlening met wondversorging
- Bemagtig pasiënte en families deur middel van onderrig in fisiese en emosionele versorging, pasiëntvoorligting, deelname aan aktiwiteite en verpligtinge van die gesondheidsorgspan
- Rekordhouding, verwysing en opvolg van verwysings van pasiënte wat meer gespesialiseerde sorg benodig
Werkservaringmodules
- Versorg bejaardes, kwesbares en gestremdes in plaaslike tehuise vir bejaardes
- Werk word onder die toesig van geregistreerde verpleegkundiges
Verrykende modules
Addisionele verrykende modules word deurentyd by die opleiding ingevoeg om aan die student 'n wye blootstelling in die veld te bied, insluitend:
- besoeke aan verskeie instansies soos die Oorinstituut;
- noodhulp Vlak 1; en
- samewerking met die Solidariteit Mediese Netwerk wat toegang bied tot die Student tot Meester-funksie.
Professionele selfontwikkeling
By die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut glo ons dat professionele versorging onlosmaaklik verbind is met persoonlike ontwikkeling. Daarom bied ons bo en behalwe die akademiese kurrikulum ook gestruktureerde groepwerksessies aan wat fokus op die bevordering van professionele en interpersoonlike vaardighede.
Onder leiding van 'n maatskaplike werker word temas soos konflikhantering, waardes, stresbestuur en die bou van gesonde verhoudings op 'n praktiese en insiggewende wyse hanteer. Dié sessies skep 'n veilige en ondersteunende ruimte waar studente lewens- en kommunikasievaardighede aanleer, samewerking bevorder en 'n begrip ontwikkel vir ander se perspektiewe.
Die doel is om elke student toe te rus met vaardighede en kennis wat nie net in die werksplek nie maar ook in hul persoonlike lewe waardevol sal wees. Só groei hulle tot gebalanseerde individue wat met empatie, insig en verantwoordelikheid tot die versorgingsberoep toetree – gereed om werklik 'n verskil te maak.
Vir wie is hierdie kursus?
'n Beroep met betekenis
Hierdie kursus is ideaal vir persone wat 'n passie het vir mense en graag 'n aktiewe rol wil speel in die versorging en ondersteuning van ander. As jy toegewyd, empaties en prakties ingestel is, is hierdie kwalifikasie jou eerste stap na 'n vervullende loopbaan in tuisversorging.
Tuisgebaseerde versorger oorweeg?
Jou toekoms begin hier
As jy vir ander omgee en 'n verskil in mense se lewens wil maak, is hierdie jou kans! Tuisversorging is 'n beroep wat nie net betekenisvol is nie, maar ook hoog in aanvraag – plaaslik én internasionaal.
Hierdie kursus is nie net 'n deur na 'n loopbaan nie, dit is ook waardevolle voorbereiding vir die volwasse lewe. Met hierdie opleiding ontwikkel jy vaardighede wat jy vir die res van jou lewe kan aanwend.
As jy gereed is om jou roeping te volg en ander met sorg en waardigheid te ondersteun, nooi ons jou hartlik uit om saam met ons hierdie reis te begin. Jou toekoms as tuisversorger begin hier!
Navrae
Kontak ons asseblief vir alle navrae.
Registreer nou
Klik op die skakel om jou plek te waarborg:
Benodig jy finansiële ondersteuning?
KLIK HIER om meer te leer oor die finansiële ondersteuning opsies wat beskikbaar is
