Noodhulpopleiding bemagtig gemeenskappe

CPR First Aid Training Concept

In ons alledaagse lewens betrap die onverwagte ons soms onkant. Ons pak ons daaglikse take met ‘n veronderstelling van stabiliteit en veiligheid aan sonder om te besef hoe vinnig hierdie realiteit kan verander. Al die onsekerhede waarmee ons daagliks gekonfronteer word, is ‘n gegewe. Die werklikheid is dat noodlottige gebeure en noodgevalle enigiemand en enige gemeenskap te enige tyd kan tref.

Om hierdie rede is noodhulpopleiding onmisbaar en vir ons almal van belang. Ons kan nie voorsien wanneer ‘n geliefde onverwags ‘n mediese noodsituasie gaan ervaar of wanneer ‘n medemens in ‘n ongeluk betrokke gaan raak nie; ons weet nie wanneer iemand skielik gaan siek raak of wanneer ons langs die sportveld gaan staan en iemand word beseer nie. Die veiligheid van ons gemeenskappe is almal se verantwoordelikheid. Elke gemeenskapslid se vermoë om in ‘n noodsituasie reg op te tree, dra by tot ons almal se veiligheid.

Die noodhulpopleiding wat Solidariteit Helpende Hand in samewerking met die onafhanklike opleidingsverskaffer Annelieke Visser aanbied, is ‘n bron van kennis en vaardighede wat jou as gemeenskapslid en die gemeenskap versterk. Met kardio-pulmonale resussitasie (KPR) as hooffokus is die aanpasbaarheid by en toepaslikheid op verskillende situasies en omstandighede ‘n onderdeel van hierdie kursus. Dit bied ook ‘n unieke geleentheid vir elke gemeenskapslid om die nodige vaardighede te bekom om doeltreffend op te tree in noodgevalle.

Visser sê: “Hierdie ontwerp is uiteengesit met ʼn diepe besef van ons stoflike liggame wat ons Skepper met soveel sorg en moeite geskape het en ons hoop werklik dat ons deelnemers deur interaksie met die handboek sal kennis maak met ons wonderlike anatomie en die wyse waarop dit werk. Ons bede is dat elke deelnemer hierdie waardevolle kennis sal gebruik om eendag ‘n verskil in iemand se lewe te maak, dalk selfs ‘n lewe te red.

Mag ons almal die geleentheid aangryp om ons noodhulpvaardighede uit te brei en ‘n sinvolle impak op ons gemeenskappe te maak.

Vir meer inligting en om aansoek te doen vir die kursus, besoek gerus www.helpendehandopleiding.co.za Laat ons opleidingsessie vir opleidingsessie saamwerk om ‘n veiliger en veerkragtiger gemeenskap op te bou.