Versorging is jou beste leermeester

In ‘n sonligkol op die stoep, tussen ‘n beker koffie sonder suiker en ‘n gebreide kombers, sit Tannie Martie en wag …

Nie vir haar kinders nie – hulle woon lankal oorsee.
Nie vir haar man nie – hy het al jare gelede stil geraak.
Nie op die personeel nie – haar voete ken reeds die roete tot by die pillehouer.

Sy wag vir iemand anders …
Iemand wat dink sewentig is nog ‘n leeftyd ver.
Iemand wat nog drome in hul oë dra, met hande wat nog wil dien – hande wat nog nie die merke van verlies of harde werk dra nie.

Iemand met ‘n vel nog so glad soos ‘n leë bladsy met geen lewensverhale daarop geskryf nie.
Iemand met ‘n hart wat glo liefde wen altyd en hartseer genees altyd.
Iemand wat nog nie weet dat die lewe soms ‘n kronkelpad is nie.
Iemand wat bereid is om te luister …

Dis nie dat sy kla nie. Sy het lankal vrede gemaak met die stiltes.

‘n Jong versorger vat saggies aan haar hand en vra met opregte belangstelling vir tannie Martie: “As Tannie vir my een brokkie lewensadvies kan gee, wat sal dit wees?”

Sy leun terug in haar stoel, glimlag en sê:
“My kind, leer om stadig te loop.

Nie net omdat jou lyf jou eendag gaan dwing nie, maar omdat die mooi in die lewe by jou verbyglip as jy te vinnig leef.

“Die mooi lê dikwels in die klein goedjies langs die pad:
‘n voëltjie wat vroegoggend vir jou sing;

die reuk van die eerste reën na ‘n lang droogte;
‘n blom wat haar kelk vir die eerste keer oopmaak;

die sonlig wat deur bome skyn en patrone op jou skoot gooi soos God se kantwerk.

“Kies goed vir wie jy jou hart gee.
Nie almal weet wat om met ‘n sagte hart te maak nie.
Party mense sny jou met hul gebroke stukkies oop sonder dat hulle dit besef.
Kies iemand wat jóú kies – selfs op die dae wat jy jouself nie kan liefhê nie.
Iemand wat jou dra as jy nie kan staan nie.
Iemand wat aanhou om sag te praat, al is daar ‘n storm in hulle eie binnekant.

“Koester jou geliefdes. Elke dag.
Nie net met geskenke of mooi woorde nie, maar met tyd.
Lag gereeld saam – hard en sonder skaamte.
Gee vir mekaar drukkies, al is dit net ‘n oomblik, want môre is nooit gewaarborg nie.
Sê sagte dinge: ‘Ek’s lief vir jou.’ en ‘Ek sien jou raak.’ en ‘Jy maak saak.’
Want hierdie oomblikke word eendag net ‘n herinnering …”

Net daar het die jong versorger besef voor haar sit die een met antwoorde op vrae wat nog nie eens gevra is nie.
Die een met stories wat wag om gehoor te word.
Iemand met oë wat dof geraak het, maar nog alles sien.
Iemand met verrimpelde hande wat al getroos, gewerk en gehelp het.
Iemand met ‘n vel wat deur tyd vol fyn padkaartlyntjies van stories ingekerf is.
Iemand met ‘n hart wat al gebreek het, maar nooit koud geword het nie. Net stiller.

Dalk, net dalk, is een van ons grootste bronne van wysheid nie net in boeke nie,
maar in die oë van iemand wat al deur seisoene van liefde, verlies, groei en geloof gestap het.

Sy praat sag, omdat sy weet wat saakmaak.

As ons net meer stilbly en luister, sal ons hoor sy het nog baie te sê.

Sy het die wêreld sien verander en die kerk sien leegloop.
Sy het haar ma begrawe en haar kleinkind se eerste tree gesien.
Sy het geleer om kinders groot te maak met min geld en baie liefde.
Sy weet hoe dit voel om iets te verloor en dan stil-stil weer op te staan, sonder dat enigiemand regtig weet jy’s nog seer.

Maar wie vra nog? Wie luister regtig?

Daar is baie ouer mense soos sy.
Kwesbaar. Eensaam, selfs al is hulle nie alleen nie.

Sy besef dat versorging nie net gaan oor skoon lakens nie.
Dis menswaardigheid. Dis kultuur. Dis taal.
Dis iemand wat verstaan “Ek is hier vir jou.” Hoef nie altyd gesê te word nie; dit moet gevoel en geleef word.

Dis dan wat tannie Martie besef haar tyd is nie verby nie.
Haar stem dra steeds gewig.
En dalk, net dalk, is ons op pad om ‘n gemeenskap te bou waar niemand vergete raak nie. Veral nie dié by wie hierdie generasie van ons nog so baie kan leer nie …

Posted in