Versorging in jou moedertaal!

Deur ‘n versorger

Daardie eerste dag in Maart 2025 wat ons as groentjies in die tehuis ingestap het om met ons praktiese ure as versorgers te begin, het almal ewe verskrik gelyk – ons as studente, die personeel en die bejaarde pasiënte.

Daar is 19 tannies in die verswakte afdeling en hulle praat amper glad nie met mekaar of met die personeel nie. Hulle sit net voor hulle en uitstaar, maar kort-kort hoor ons ‘n sagte geprewel in gebroke Engels van iemand wat hulp nodig het.

Ek as student is heeltemal onseker oor wat van my verwag word. Leiding, raad of ‘n verwelkomingskomitee is daar glad nie. “Swem Jannie swem” kom in my gedagtes op. Hier moet ons elkeen op ons eie oorleef.

Op dag twee voer ek vir tannie *Maria. Met ‘n groot, 20 ml-spuit probeer ek haar fyngemaalde ontbyt tussen haar tande deur in haar mond kry sodat sy net kan sluk – kou kan sy glad nie meer nie. Haar oë gaan nie eens oop nie. Fyn hyggeluidjies glip van tyd tot tyd oor haar lippe. Sy is permanent bedlêend en op suurstof.

Dae word weke en weke maande. Met verloop van tyd vind ons ons voete en begin met die tannies gesels. Ons vra belangstellend uit. Stil-stil en slegs ‘n paar woorde op ‘n slag begin die tannies ook praat – tot ons verbasing in Afrikaans.

Soggens maak ons hulle vroeg wakker, groet vriendelik, verduidelik prosedures en gesels ‘n bietjie. Stadig begin die tannies teruggroet en dié wat kan, begin gesels – in hul moedertaal.

Een keer per week stap ons ‘n bietjie buite met die tannies wat nog kan loop. Ons doen oefeninge en probeer almal betrek. Ons doen selfs ‘n bietjie moeite met hulle naels en pamperlang die hande.

Stelselmatig word daar meer geselsies aangeknoop. Alzheimer’s en dimensie is volop in die verswakte afdeling se televisiekamer. Daagliks is daar slegs een versoek: André Rieu! Dit is al wat hulle onthou en dit laat hulle veilig voel. Elke tannie het haar stoel waar sy altyd sit; hulle hou nie van verandering nie. Selfs in die eetsaal het elkeen haar plekkie.

Dinsdagaande na ‘n lang skof begin ons tannies regkry vir die nag en sê totsiens tot volgende week. “Sien ek jou môre?” is ‘n vraag wat gereeld gevra word. Die teleurstelling is duidelik op hul gesiggies leesbaar as ek antwoord: “Nee tannie, eers volgende week.”

Ons sien hoe die tannies blom as ons Maandagoggend daar instap en almal wil gesels – in Afrikaans. Ons Afrikanervolk se waardes kom sterk deur in diep gesprekke.

Daar is ook donker dae wanneer ons moedeloos raak en wil-wil moed opgee, maar ons trots en verantwoordelikheid kry die oorhand. Ons lig ons koppe op en doen waarvoor ons geroep is: om mense in nood te help.

Tannie *Maria word beter. Sy eet selfs met ‘n lepel, sit gereeld regop en selfs nou en dan in haar stoel. Sy begin selfs gesels – soms sonder ophou, al maak niks sin nie. Ons kan sien as iemand met haar Afrikaans praat, is die gesiggie wakker. Een oggend in Mei moet ek help om haar te nebulise – haar longe word al swakker en suurstof alleen help nie meer nie. Ek klop, groet en begin die prosedure verduidelik. Sy kyk op in my oë en met ‘n glimlag sê sy: “Nou is ek tevrede.” Tannie *Maria is die volgende dag oorlede.

Die dae gaan verby. Dit is ‘n eindelose kringloop van kinders wat ver is, familie wat hulle vergeet het en vriende wat self in tehuise is en nie meer mobiel is nie.

Ons vyf maande van werk gaan te gou verby. Die vriendelike, Afrikaanse “goeiemôre” gaan eersdaags nie meer gehoor word nie. Soms dink ek ons bydrae van die afgelope vyf maande is soos ‘n druppel in ‘n emmer – dit het byna geen waarde nie. Tog laat God ons besef elke druppel wat ons bydra, is die moeite werd. Vir iemand is dit dalk die laaste druppel in ‘n oorvol glas wat die glas na alle kante toe laat oorloop. Oorloop van vrede, vreugde, genade, menswaardigheid, selfwaarde, waardering, liefde, tevredenheid en die wete dat God ons nie vergeet het nie.

Aan elke student: Dankie vir jou bydrae, dankie vir elke druppel, dankie vir elke omgee-oomblik – in Afrikaans.

Leef jou passie!

Elsabe van der Walt

(Dankie aan Hannes Noëth vir inspirasie.)

Posted in