Die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut vier vanjaar nie net die nuwe groep van 37 opgeleide versorgers nie, maar ook ons vyf jaar van groei, roeping en hoop.
Wanneer mense aan opleiding dink, dink hulle dikwels net aan boeke en eksamens en of jy slaag of druip. Maar vir ons gaan opleiding oor veel meer: Dit gaan oor mense. Dit gaan oor mense wat honger is na kennis. Mense wat met passie kennis oordra. Mense wat hierdie kennis in die gemeenskap toepas. En uiteindelik mense wat die vrugte van hierdie kennis proe – deur sorg, liefde en hoop wat die versorgers bied.
Opleiding is lewensveranderend. En ware kennis word net betekenisvol wanneer ons dit met ander deel.


Vanjaar vier ons met trots ons vyfde bestaansjaar – en staan as ‘n trotse organisasie met eie akkreditasie en sterk waardes, diep gewortel in ons gemeenskappe.
In hierdie vyf jaar het ons gesien hoe:
- studente se lewe verander en hulle deel word van ‘n versorgingsfamilie;
- die waardigheid van hierdie beroep in gemeenskappe herstel word; en
- hoop weer wortelskiet.
Ons versorgers is die Emily Hobhouse’e van ons tyd. Emily Hobhouse was ‘n vrou wat nie stilgebly het toe sy onreg gesien het nie. Haar nalatenskap leer ons dat ware versorging nie net ‘n beroep is nie, maar ‘n roeping – ‘n roeping om te sien, te help en op te staan vir ander.
By die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut stap geen student die pad alleen nie. Ons as personeel, lektore en ondersteuningsdienste rus elke student met kennis toe, maar ons stap ook met elke student die ekstra myl sodat hulle nie net professioneel groei nie, maar ook as mens. Elke student stap van ons kampus af weg met ‘n sertifikaat én ‘n roeping.
Die volgende vyf jaar wag vol geleenthede, nuwe kursusse en nuwe hoogtepunte. Hier bou ons saam aan ‘n nalatenskap van hoop – en verseker dat versorging in Afrikaans trots sy regmatige plek in die wêreld kry.
Dr. Elsha Hermann
