Sondagmiddae het ons altyd rondgery, so ‘n lekker rondomtalieroete van ons tuisdorp na een van die omliggende dorpe. Gewoonlik het ons gestop vir ‘n lekker draairoomys of een of ander lekker soet proppie waarvoor ons lus was en dan weer terug.
Soos elke dogtertjie maar is, neem jy maar ‘n handsakkie saam met jou en wat jy ook al daarin sit, is jou saak en jou saak alleen. My handsakkie was eenvoudig; ek het nie van baie fieterjasies gehou nie, jy weet. Lipstiffie, sakdoekies en lekkerruikwatertjies was onder aan die lys as dit by my handsakkie gekom het. ‘n Notaboekie en pen was heel bo aan die prioriteitslys – en met rede.
My oë het mooi woorde gelees in al die plekke en my notaboekie was byderhand om die ink van elke naam op te neem. Ek het afdelings gehad, en vandag vat ek ons reis verder na die afdeling Ouetehuise.
Van Tehuis tot Tehuis … So het die ink van mooi woorde gevloei. En vandag maak ek my pen weer vol ink, want na baie jare ry ek nou nie net meer verby om die woorde te lees nie – ek het gestop en bevind my in die voorportaal van die huise met die mooiste name.
Hier binne sien ek ‘n prentjie voor my afspeel. Niemand wat hier bly het meer swart of bruin of blonde hare nie; nee, almal hier het grys hare. Hulle voertuie word nie meer by motorhandelaars gekoop nie; nee, hulle koop nou hulle vervoermiddels by ‘n bekende apteek. Daar is nou nie ‘n groot verskeidenheid modelle om van te kies nie, net so een of twee. Maar jy kan sowaar kies tussen manual en elektries. Almal hier het hulle huise verruil vir ‘n kamer. Hulle het hulle families ingeruil om hier binne nuwe “familiebande” te smee. Hulle het hulle vryheid ingeruil vir beheer deur ‘n roetine. Private badkamers is verruil vir gedeelde badkamers.
Ten spyte van al die opofferinge wat hulle moes maak, beleef ek wel iets anders ook: geluk. Al het die lewe alles van hulle weggevat, sien ek hulle geluk en besef weer in die gange van hierdie huis lê nog baie woorde wat geskryf moet word.
Soos ek deur die gang stap, sien ek baie deure en weereens is daar ‘n naam aan elke deur gekoppel. Tannie Lillie, kamer 5. Luuksheid is afgeskaal na eenvoud. Met my hand skuif ek die deur oop. En al wat ek sien, is ‘n bed, stoel, tafeltjie en kas. So hier en daar ‘n klein yskassie. Dis al aardse besittings wat oorgebly het van ‘n plek wat eens ‘n plaashuis was. Maar ek sien ‘n stralende gesig – geluk!
Die klok lui; die trollie met kos kom die gange af. Dit ruik lekker. Hierdie gang kry hulle kos in hulle kamers; hulle noem dit die verswakte afdeling. Die res eet in die eetsaal. Ek hou die bewegings dop en ek skryf die volgende woord in my notaboek: dankbaarheid.
Maar ek tel hier iets anders op – hierdie gang het hulp nodig. En my gedagtes neem my na Prediker in God se Woord waar so mooi beskryf word hoe die sterk manne (liggaam) krom word en die malers (tande) die werk staak omdat hulle min geword het en dié wat deur die vensters kyk (oë) verduister word.
Hier sien ek die bejaarde mens, so afhanklik van ander se hulp soos ‘n baba. Hulle moet gevoer en gebad word, en vanaand as die son sy laaste strale oor die horison gooi, moet ons seker maak hulle is veilig en warm in hulle bed. Hierdie gang roer my hart, en nederig en sag word ook ‘n toevoeging in my notaboek.
My besoek aan die gang kom tot ‘n einde, maar die woorde van ‘n moeder wat bid, het my hartsnare vasgevang. Soos ‘n kind met haar pa sou praat, hoor ek hierdie moeder met haar Hemelse Vader praat. Met oë wat nie meer die mooi van die lewe kan sien nie en ‘n liggaam wat nie meer kan beweeg nie, lê sy op haar bed en dank die Vader vir nog ‘n mooi dag wat sy gehad het. En sy vertrou dat Hy haar weer môre sal wakker maak indien dit sy wil is. Die geloof van ‘n kind tel ek op in hierdie eenvoudige gebed van ‘n moeder.
In die gange van hierdie huis lê hulle, beweeg hulle, lag hulle, huil hulle, bid hulle, wag hulle vir jou, ‘n kind wat moet kom kuier. O, die opgewondenheid van ‘n besoek, die velhonger om net ‘n drukkie te gee of te ontvang. Kamer na kamer vertel ‘n ander storie van hartseer maar ook blydskap. Hulle is broos en sag. Hulle harte is in baie se hande, so werk versigtig daarmee. Die hart van die mens … As hy gesond en gevoed is, kry jy ‘n gelukkige mens. Maar as die hart smarte beleef, sit jy met ‘n stukkende mens.
Die wysheid van die grysheid, soos die gesegde sê … Ons almal kan maar by die gryses se voete gaan sit en wysheid bekom. In hierdie tehuise lê wysheid en kennis wat geen universiteit, kollege of instansie jou kan leer nie.
Lewenslesse kom met praktiese ondervinding en die tehuise lê soos ‘n biblioteek oop vir jou en my om by hulle te gaan sit en hulle verhale te “lees”.
My besoek aan die tehuis het my met ander oë laat kyk na hulle wat eens jonk was … Hulle wat nou by die punt is waar hulle goue oliekruik binnekort stukkend gaan wees en hulle stof na die aarde terugkeer soos dit eens was, na die gees van God wat die lewe gegee het.
– R Beukes
